Roeping

Valleisig verstaan haar roeping as...

Ons is lief vir jou

Dit gaan oor dissipelskap.
Ons wil heeltyd deur God getransformeer word sodat ons Jesus kan volg en lief wees vir die wêreld en almal daarin.

Welkom tuis

Dit gaan oor verhoudings.
Ons wil leer om iets van onsself prys te gee sodat ons vir ander ’n tuiste kan bied.

Kos is op die tafel

Dit gaan oor feesvier.
Ons wil die volheid van die lewe omhels en God verheerlik deur die lewe te geniet.

Lewe vir die stad

Dit gaan oor God wat ons stuur.
Ons wil bereid wees om te gaan waar God ons stuur en te doen dit waarmee God ons uitdaag.

Almal is welkom by Valleisig

Ons by Valleisig gemeente, verwelkom almal.  As volgelinge van Jesus Christus glo ons dat Sy genade genoeg is vir elkeen van ons, maak nie saak wat jou storie, jou seerkry of jou sonde is nie.  Jesus nooi ons in Sy kerk in om heel te word, om deel te word en om vergewe te word.  By Valleisig het ons ʼn opregte soeke na ʼn sagter manier van saam lewe waar ons die andersheid van die liefde en genade van Jesus saam kan ontdek.  Die ou kerkvaders was van mening dat die gereformeerde kerk staan op vier beginsels : Jesus alleen, Die Skrif alleen, Geloof alleen en Genade alleen.  Ons by Valleisig herverbind ons tot hierdie wysheid.
In die lig van die bogenoemde en na aanleiding van die besluite van die Algemene Sinode gedurende Oktober 2019 insake selfdegeslag verhoudings wil ons as Gemeenteraad herbevestig dat almal welkom is en dat ons graag almal wil insluit.  Daarom bely is ook die volgende aangaande selfdegeslag verhoudings.

Die Gemeenteraad van Valleisig:
  • Glo dat die Here ons as gemeente geroep het om Sy koninkryk te verteenwoordig oral waar ons kom tussen alle mense;
  • Bely die Bybel as Woord van God en glo dat die groot gebod en die tweede wat daaraan gelyk is, naamlik om God lief te hê en jou naaste soos jouself (Lev. 19:18; Mat. 22:37-40), leidend is in die verstaan en uitleef daarvan. Dit geld vir almal, ongeag seksuele oriëntasie. Om daardie rede wil ons almal omarm en niemand uitsluit nie;
  • Herbevestig in die lig hiervan die gelykwaardigheid van alle mense, ongeag seksuele oriëntasie en verbind haarself tot die handhawing van die menswaardigheid van alle mense;
  • Verklaar daarom dat persone met ʼn hetero- en homoseksuele oriëntasie wat in ‘n verhouding van persoonlike geloofsgehoorsaamheid aan die Here leef, ten volle kan deelneem aan al die voorregte van Valleisig Gemeente as verbondsgemeenskap;
  • Besluit om in die lig van bogenoemde erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag wat gekenmerk word deur liefde en trou, en maak voorsiening dat hierdie verbintenisse deur Valleisig predikante wat hulle weg oopsien, ingeseën kan word;
  • Erken die diversiteit van beskouings oor selfdegeslag verhoudings binne die gemeente en gemeenskap, en bevestig elke lidmaat se reg om oor hierdie saak te mag verskil, en is terselfdertyd ook bewus van die verskillende en uiteenlopende emosies oor die besluite van die Algemene Sinodesitting;
  • Bevestig dat eenheid nie dieselfde is as eendersheid nie en dat eensgesindheid nie dieselfde is as eenstemmigheid nie.  Die gemeenteraad wil daarom ruimte maak vir verskillende beskouings en menings en verbind ons tot eenheid in verskeidenheid.

Die gemeenteraad herbevestig ons verbintenis tot die NG Kerk en die gereformeerde tradisie.  Getrou aan die tradisie besef ons dat ons nooit finaal oor God, Sy Woord en hoe ons dit verstaan in ons tyd kan praat nie.  Daarom is hierdie hoe ons nou verstaan wat God van ons verwag.  Ons verbind ons daartoe om te bly soek na God se wil vir ons in die tyd waarin ons leef en om voortdurend te verander (reformeer) in gehoorsaamheid aan God se wil.
Ons nooi graag enige lidmaat wat oor hierdie saak wil praat, om 'n afspraak met die predikant van jou keuse te maak.

"Goedgekeur deur Valleisig Gemeenteraad op 24 Februarie 2020"
Valleisig Gemeenteraad